Nog altyd is ek lief daarvoor om woorde op papier te sit. Of dit nou agter op ‘n vraestel, ‘n kerkblaadjie, ‘n Woolies slippie of op ‘n driehoekbriefie is. My heel eerste gediggie onthou ek baie goed. Standerd 7 … terwyl ek moes Biologie swot op ‘n Saterdagmiddag in my kamer. Ek onthou ook die outjie wat soos Brut geruik het vir wie ek nooit die briefie gegee het nie.
Net laasweek kuier ek saam met my hartsvriend wat opmerk dat, al het ek al deur pretty much terrible goed gegaan ( in terme van hartssake), ek maklik daaroor praat. Dis waar…ek voel afgestomp deur sommige dinge wat met my gebeur het wanneer ek nou daaroor praat. Asof dit een of ander Mills and Boon is wat ek aframmel. Maar ek weet watse impak dit/hulle op my gehad het en hoe dit gehelp het om my vandag te help dink en doen ….soos ek doen.
Meestal is dit die liefde (of gebrek daaraan) wat my inspireer om te skryf… Oral in my lewe; my kaste, my kar, my handsakke, tel ek stukkies papier op wat ge-ink is met my hartsgeskiedenis. Soos Hansie en Grietjie van ouds, kan ek die spoor vat na my verlede toe. Soms goeie tye, soms verlangende tye en soms “traanspat-ek dink nie my hart gaan ooit herstel nie’’-tye. Maar die wonderlike ding van ‘n mens se hart is dat hy weer heelword. Elke keer…al breek hy hoe erg en dink jy, hy lê in skerwe gespat op die vloer, tel jy (of iemand anders) daai skerwe op en plak jou hart weer vas. Better than new.
So…genoeg gepreek en gesanik.
Op hierdie blog gaan ek my verlede herleef… I’m going to revisit the past that made me who I am today…en ek gaan sommer dinge van vandag ook ingooi in die mix…want elke dag word my denke gevorm deur die mense en dinge om my.
‘’Ek wonder nou of ek die woorde op papier of in pixels moet sit…Woorde waai weg in die wind”.