So op die vooraand van my 31ste verjaarsdag is my kop vol
vrae en antwoorde. Die vrae en antwoorde hou wel geen verband nie. Hoekom is
dit dat mens met verjaarsdae, Kersfees, Nuwejaar altyd so terugdink. Lysies maak,
‘n inhoudsgawe opstel, stock taking doen van dit wat was, dit wat jy gehoop het
sal wees en dit wat is. 363 dae gelede was ek ‘n gelukkige 29 jarige meisie met
skitterblink oë, liefde in haar lewe, papercuts en penvlekke van Heinemann
bladsye en ‘n sekere toekoms wat wag. Nou sit ek op die drumpel van 31. Nie
heeltemal liefdeloos nie, papercuts het plek gemaak vir spreadsheets en ‘n
toekoms waaroor ek half onseker is.
Ek neem bestek op van die afgelope jaar en besef it wasn’t
all bad. Not at all. Maar in my hart en my wese is ek al lankal nie waar ek
regtig graag wil wees nie. Iewers het Mia plek gemaak vir Rooikappie.
Kom ons begin by die begin…
Rooikappie met die papercuts en penbevlekte hande,
“publisher’s hands”, het op ‘n aand tussen ‘n klomp cowboys en een indiaan die
wolf raakgeloop. Was dit maar net soos ander se verhoudings, raakgedrink gewees, was Rooikappie dalk nie vandag waar sy haarself bevind nie. Sien
Rooikappie is nie ‘n groot drinker nie en Wolf…wel hys baie spesifiek oor die
nektar wat oor sy lippe gly.
Wolfie se grys ogies het Rooikappie vasgevang. Daardie aand
al. Erens deur die loop van die aand in die vars Wesrandse buitelug het
Rooikappie te diep in daardie grysgrou oë gekyk en daarin verdrink. Gelukkig
het sy vinnig opgekom vir asem.
Sy het genoeg tyd gehad om asem te skep en in die blouste
blou oë te kyk. Daar was ‘n teddiebeer in die betonoerwoud wat presies geweet
het wat om te sê, wat om te doen om haar hart te wen, al sou hy later sê dit
was haar skuld dat sy verlief geraak het op hom.
Rooikappie verstaan tot vandag toe nie hoe haar beentjies
kon lam raak vir die blou-oog beer nie. Hy was nie soos enige ander voor hom nie. Die blou-oog beer het ‘n sagte siel maar ‘n
hardkoppige hart gehad. ‘n Geknakte wesentjie was die liewe blou-oog beer. Maar
woorde soos mislukking, vet en kwaai, was ingekrap in die stam van sy wese. Mammabeer, pappa en boetie het saam gesorg dat my blou-oog beer se siel seer het.
Rooikappie het haar bes probeer, maar dit was ‘n moeilike paar maande saam met
die blou-oog beer. Hy het soms nie die woorde gehad om te verduidelik hoe hy
voel nie. Soms bloot nie lus gehad om te verduidelik nie. Maar Rooikappie het
woorde nodig…sy soek alles tot in die laaste lettergreep om te begryp. So
staccato-staccato het Rooikappie en haar blou-oog beer gekommunikeer. Nou nog
as as Rooikappie terugdink aan sy teenwoordigheid in haar lewe voel dit
onwerklik. Hy was inkennig die mansmens. Baie! Maar die wat hom leer
ken het kon deur sy bravado sien. ‘n Teddiebeer in hart en siel. Die manier wat
hy Rooikappie se siel kon uit trek en op dieselfde tyd kon laat beter voel. ‘n
Gemaklikheid wat geen perke ken nie. Die manier wat hy met ‘n woord, of een kyk
Rooikappie se wêreld kon laat stilstaan.
Moenie dink ou Wolfie het nie probeer om homself in te wurm
in die hegte band nie. Hy het sy bes probeer. Maar Rooikappie wou niks weet van
sy grysgrou oë nie want sy was verdiep en verstar in die mooiste blou.
Tot op ‘n dag…omtrent so twee seisoene nadat sy haar
teddiebeer ontmoet het, het Rooikappie en die Blou-oog teddiebeer besluit dat
hulle paaie moet skei. Dit was ‘n koue wintersaand en Rooikappie het ingevaar in
die bos en die teddiebeer…hy het gebly waar sy hom gelos het. Dis juis hier wat
Rooikappie toe weer in Wolf vasloop, struikel en in sy arms beland het. Die
eerste keer.
Rooikappie het nie tweekeer gedink oor wat sy doen nie, destyds
het sy nie gedink die wolf is so gevaarlik nie. Nie gevaarlik in wese nie, maar
gevaarlik as dit by Rooikappie se hart kom . So kruis haar paaie tussendeur die
storie van die Wolf, Sneeuwitjie en haar dwergies weer met die teddiebeer. Rooikappie
wou hom nooit seermaak of leed aandoen nie. Maar sy het. Sy het die blou oë
laat traan, sy het sy lewe en sy bed gaan deurmekaar krap. Nie dat hy nie self
geworstel het en haar in die proses seergemaak het nie, maar Rooikappie wou
nooit maar nimmer haar liefste teddie sien seerkry nie. Die probleem was…Rooikappie
het die bos ingevaar, haar ontmoetings en herontmoetings met Wolf sou daardie
blou oë nooit kan vergewe nie. Nou dink teddie dat Rooikappie soos Gouelokkies net 'n woerst-warts was, net die stoele, pap en beddens kom toets en toe is sy weg. Maar daar is niks verder van die waarheid af nie.
Mag die grysoë en die blou oë tog nooit ooit ontmoet nie, die hare sal waai! Miskien moet hulle paaie kruis want dalk sal hulle dan kan verstaan dat die
bruinoog meisiekind met die rooi kappie met liefde, deernis en verstaan in
hulle albei se oë gekyk het. Maar nie op die selfde tyd of op die selfde manier
nie. Rooikappie se hart bloei…en dis as gevolg van wonde wat beide op haar hart
gelaat het. Maar sy baklei terug…haar gemanikuurde vingers is al stompies
baklei…en sy wil nie meer nie.
Die gryskop prins het verby gegallop, aangenaam, sielsvriend,
goed belese, goed berese, maar met ‘n ander verwysingsraamwerk as onse
meisie in rooi. Rooikappie het gedink sy
wag vir ‘n prins of ‘n houtkapper (of was dit nou die geinkte haarkapper) maar
dalk wag sy net vir daai Simson wat die sterre beloof het. Moet sy net sit en
wag? Moet sy hom gaan soek? Moet sy sien wie sy intussen ontmoet, want dalk is hy
vermom? What to do?